Wednesday, March 7, 2012

Reaksie op Watkins se tirade

Japie Bosch skryf soos volg:

“Graag antwoord ek op Trevor Watkins se tirade [klik hier om dit te lees] oor my opsomming van die jongste algemene jaarvergadering (AJV) van die Jeffreysbaaise Inwonersvereniging, soos berig op 24 Februarie 2012 in The Courier - Die Koerier [klik hier om dit te lees].

Ter aanvang:  een van Trevor se swakhede is dat hy nie Afrikaans mooi verstaan, begryp en kan lees nie.  Dis jammer, want sy reaksie skep wanvoorstellings.  Dis net so jammer dat Watkins onverwagte karaktereienskappe van homself openbaar.  Voorts, Watkins was nie by die vergadering teenwoordig nie.  Hy veroorloof hom dus oningeligte kommentaar.

As rapporteur het ek verslag gedoen oor my waarnemings. Dit was nie ek wat DA-politikus, Elza van Lingen, stilgemaak het nie.  Dit was die waarnemende voorsitter, dr. Gustav Barnard, wat dit inderdaad op gepaste wyse gedoen het.  Nêrens het ek ‘n mening uitgespreek dat sy “op ongeskikte wyse” moes ophou praat nie. Dit was dat dr. Barnard wat haar laat verstaan het haar praattyd is verstreke.  Net soos die grootste deel van die gehoor (altemit die hele gehoor) het ek niks fout daarmee gevind nie.

Die feit dat die DA-raadslede die vergadering ná Van Lingen se toespraak padgegee het, is nuuswaardig.  Daarom is dit gerapporteer.  Dit het vreemd voorgekom.

Die dag ná die vergadering het ek ‘n telefoongesprek met dr. Barnard gehad.  Daartydens het hy sy misnoë te kenne gegee oor Van Lingen se politieke misbruik van die vergadering.  Hy het ook te kenne gegee dat hy ‘n brief hieroor aan haar gaan skryf.  ‘n E-pos van hom hieroor aan die nuwe voorsitter van die vereniging, Paul Hjul, het my bereik.  Hjul het op sy beurt geskryf:  As the chairperson of the association I will be writing to Ms van Lingen to establish whether there has been any misunderstanding between the JBRA and herself; as well as to apprise her of the complaints which I have received”.

Dit was ook dr. Barnard wat die inligting oor verkiesing van die nuwe bestuur tydens die vergadering aan my bevestig het.

Watkins verwys ook na die AJV van 2011 waartydens ek die sekretaris was.  Hy het ‘n eiertjie te lê oor kernbesluite wat nie goedgekeur is nie.  Dis onwaar.  Die hersiene grondwet van die vereniging is in totaal, sonder teëstem, goedgekeur.  Die Afrikaans en Engels was keurig.  Dit kan nie gesê word van die wysigings wat vanjaar voorgelê is nie.

My berig is geskryf om inligting weer te gee wat nie elders weergegee sou word nie.  Daarom het ek nie na Watkins se voorsittersverslag verwys nie.  Die Inwonersvereniging het sy eie blog waar die verslag (eers 12 dae later) gepubliseer is.  Bowendien het The Courier - Die Koerier ‘n skakel op sy blog na die vereniging se blog.  Hoekom dupliseer?

Die “gemors” waarna my berig verwys het, wentel hoofsaaklik om twee sake:
·      Die trant van Van Lingen se toespraak en die DA-raadslede se optrede daarna en
·      die gesukkel om ‘n bestuur vir die vereniging verkies te kry.  In dié verband het ek al tevore in die plaaslike media berig oor die afsydigheid van die inwoners teenoor die vereniging.  Watkins het my met dié berig gelukgewens.

Watkins het my berig oor die jongste AJV verkeerd gelees.”

Ludwig Vorster skryf soos volg:

“Watkins sit die pot mis oor my betrokkenheid by die Jeffreysbaaise Inwonersvereniging. Ek wás ‘n gekoöpteerde lid van die bestuurskomitee, maar was weens persoonlike redes nie verkiesbaar tydens die daarvolgende jaarvergadering in 2011 nie. Sy bewering dat ”if he had stayed on the committee he could have helped check … “ is dus absurd.

Ek weet dat die Voorsitter nie teenwoordig kon gewees het nie weens die tragiese afsterwe van sy eggenote wat die oggend gebeur het. My kritiek was nie op sy leierskap nie maar ten opsigte van die wanordelike aanloop tot en verloop van die vergadering. Lees gerus wat ek te sê gehad het deur hier te klik.

Ten slotte: Afrikaans is ‘n mooi, beskrywende en maklik verstaanbare taal. Watkins se gebrek aan waardering en begrip daarvan, strek hom gewis nie tot eer nie.”

[Korrespondensie oor hierdie aangeleentheid word hiermee afgesluit – The Courier – Die Koerier]

No comments:

Post a Comment