Friday, February 24, 2012

Soek sélf inligting - DA

Japie Bosch

“Wat ‘n gemors van ‘n gemors van ‘n gemors”.

Dié woorde van oom Zak van Staal Burger-faam is toepaslik op Woensdagaand se Algemene Jaarvergadering van die Jeffreysbaaise Inwonersvereniging in die Newtonsaal.

Eers het die vergadering 25 minute laat begin, omdat die (on)verantwoordelike munisipale amptenaar die saal laat oopgesluit het.  Die res van die vergadering het dié vals toon behou.

Gasspreker

·      Gasspreker Elza van Lingen het haar gehoor hopeloos verkeerd gelees en die vereniging se byeenkoms gebruik om ‘n politieke toespraak  te maak.  Dié DA-leier in die Nasionale Raad van Provinsies het weining vertel wat die belastingbetalers hoop gegee het oor die agteruitgang van die munisipaliteit.
·      Van Lingen het, ter aanvang, gesê:  “dis hoogtyd dat ons mekaar in die oë kyk en sê wat gesê moet word”.   Uiteindelik het net sy gesê.   Sy het voorgestel dat mense wat ingelig wil wees en vrae het raadsvergaderings, wykskomitee-vergaderings en DA-takvergaderings moet bywoon of hul raadslede bel.
·       In haar toespraak  het sy belowe om ‘n “feesmaal” van die ANC in Kouga se onbevoegdhede op te dis.  Helaas.  Van Lingen se “onthullings” was gerapporteerde ou nuus. 
·      Die waarnemende voorsitter, Gustav Barnard, het Van Lingen ná 50 minute se praat gevra dat sy moet klaarkry.  Sy het nog vyf minute aangehou.  In sy bedanking aan Van Lingen het hy haar, vies-vies, laat verstaan dat die vereniging plek vir ondersteuners van alle politieke partye het.  Hy het, tereg, te kenne gegee dat sy haar toespraak op die verkeerde plek gelewer het.
·      Hierna het Van Lingen en vyf van die ses teenwoordige DA-raadslede die saal verlaat.  Hulle was Nico Botha, Mercia Ungerer, Danny Benson, Brenton Williams en Henda Thiart.  Net raadslid Dave Aldendorff  het agtergebly.  Hulle het die gehoor nie die geleentheid gegun om vrae aan hulle te stel nie. 

Die vereniging

·      Met die verkiesing van ‘n nuwe bestuur is die vereniging feitlik ontman vanweë ‘n gebrek aan  belangstelling.  Trevor Watkins het hom nie weer as voorsitter beskikbaar gestel nie.  (Sy vrou is vroeër die oggend oorlede.)  Onder-voorsitter, Gustav, en ‘n paar ander, was nie weer as komiteelede besklikbaar nie.  
·      Ná ‘n gesukkel om ‘n nuwe voorsitter te kry, was daar net vyf inwoners uit ‘n gehoor van sowat 100 wat beskikbaar was om die tien poste te vul.  In wese bestaan hierdie bestuur nie, want íngevolge sy grondwet, benodig hulle ses lede om ‘n kworum te vorm om vergaderings te hou.

No comments:

Post a Comment