Monday, February 20, 2012

Red nou ‘n nasie …

Atri Carstens

Tydens die Munisipale raadsvergadering van 30 Januarie 2012, het enkele ontstellende sake aan die lig gekom.

Raadslid Vernon Stuurman het gesê dat die ANC geen begeerte het "to continue denying our financial situation". ‘n Welkome erkenning van die realiteit.

Heelwat nuwe raadslede het niks te doen gehad met die klaaglike finansiële posisie waarin die Kouga Munisipaliteit hom bevind nie, maar mnr. Stuurman wél. Hy, onder andere, was op die vorige Burgemeesterskomitee (volgens my die stert wat die hond swaai), die komitee onder wie se waak ons in hierdie gemors beland het.

Mnr. Stuurman sê sy volle ondersteuning aan die voorgelegde aangepaste begroting toe en ‘n debat volg.

Dr. Nico Botha (DA) vra wat gaan aan met die R26 miljoen se "land sales" wat nie gerealiseer het nie. Reeds in die verlede is daarop gewys dat moontlike inkomste uit die verkoop van grond nie beskou kan word as ‘n gegewe met die opstel van ‘n begroting nie.

En wat antwoord Stuurman? "It was a wish list. It [die inkomste uit grondverkope] did not realise." Hoe op aarde kan ‘n begroting opgestel word op grond van ‘n "wish list"?

Die opposisie teken beswaar aan teen die aangepaste begroting se sny van 48% (!) op instandhouding van infrastruktuur en wil hê die item moet terugverwys word na die Uitvoerende Burgemeester. Dit word geweier en gesê dat daar gevra sal word vir provinsiale en nasionale "intervention" as ‘n projek van die president onder sy eie voorsitterskap.

In dieselfde vergadering word ‘n verslag van die ouditeur-generaal voorgelê met verdoemende syfers oor onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes van miljoene der miljoene rand. Dus: daar is (weer eens) nie voldoende geld vir infrastuktuurinstandhouding nie, maar oor die wanbesteding van miljoene rande heers ‘n grafstilte.

Gepraat van infrastruktuur: volgens die munisipale woordvoerder is ons water veilig om te drink, maar ek sien telkemale rooi [lees modder] as my bondel wit wasgoed met bruin vlekke uit die wasmasjien kom!

Dr. Botha lewer kommentaar op "councillor allowances", waarop mnr. Stuurman wil weet waarom Botha dit uitsonder aangesien dit net ‘n klein deeltjie van die begroting uitmaak. Daarmee was die bespreking "finish en klaar".

En aan mnr. Phumzile Oliphant (ANC) vra ek: Wat het u bedoel toe u gesê het dat die "poorest of the poor" gewillig is "to sacrifice projects in their own wards" ter wille van die breër prentjie? Weet die armstes van die armes dat daar namens hulle gesê is dat projekte in hulle wyke opgeoffer sal word?

Dus: ‘n tekort van R26 miljoen word ligtelik afgemaak, miljoene rand is wanbestee, vrae oor raadslede se salarisse is ongewens, maar die armste van armes moet klaarblyklik projekte in hulle wyke opoffer om die Kouga Munisipaliteit uit die finansiële verknorsing te kry waarvoor die armes beslis nie verantwoordelik was nie.

Skande.

No comments:

Post a Comment