Sunday, February 19, 2012

Swak, DA, Swak

Japie Bosch


Die storie word vertel van 'n besope ou wat een aand in die begraafplaas van Piketberg aan die slaap geraak het. Iets het hom laat wakker skrik.  Hy was onder die indruk dat dit die Oordeelsdag is en dat die regverdiges uit hul grafte gaan opstaan. Toe hy oor die grafte heen kyk, sien hy hy is die enigste een wat opstaan.  Dis toe dat hy sê "Swak, Piketberg, Swak!"



Kouga se DA-raadslede kommunikeer nie met hul kiesers nie, want die DA-topstruktuur het nie vertroue in die oordeel van hul eie raadslede nie.

Die meeste DA-raadslede is groentjies in die politiek en ontbreek politieke afronding.

En voordat die ANC uit sy vel spring oor dié kritiek:  julle is in net so ‘n gemors.

Die probleem in die DA is die bekommernis dat daar voortvarende raadslede is wat al impulsiewe en ondeurdagte uitsprake gemaak het.  Nou word almal die swye opgelê.
Enersyds is dit verstaanbaar, omdat hulle skade kan aanrig.  Andersyds is dit ‘n vrotsige beleid dat selfs die senior DA-lede g’n sprak mag of wil sprook nie.  Waarheen is rekenpligtigheid?

Swak, DA, Swak!

Intussen trek die kiesers aan die kortste end.  Hul reg om deur hul raadslede  oor sake van die  Kouga-munisipaliteit ingelig te word en hul reg om vrae te vra, word hulle skandelik ontneem.  Dit nogal deur mense wat aldag lawaai maak oor deursigtigheid.

Swak, DA, Swak!

Die kiesers sien dit raak.  Hulle word moerig.  Nog nooit was Kouga in so ‘n benarde posisie soos nou.  Daarom wil hulle nou meer as ooit antwoorde hê.

Dis ‘n ou storie, maar dit moet weer gesê word:   dis nie die raadslede se munisipaliteit nie, dit behoort aan die mense wat hier bly.  Hierdie raadslede het voor 18 Mei verlede jaar aangebied om die inwoners te verteenwoordig.  As jy iemand verteenwoordig, gee jy hom tog terugvoering.  Dis nie net goeie maniere nie, dis ‘n kontrak.  Dis wat daardie kruisie op die stembrief beteken het.  Dit het g’n raadslid verhewe gemaak nie.

As dit so aangaan, sal dit die DA nog duur te staan kom.  Die gevolge sal mettertyd blyk.

Sedert die munisipale verkiesing nege maande gelede het nog nie ‘n enkele DA-raadslid op enige wyse  iets oor sy werk en kennis van wat in die munisipaliteit aangaan  aan die kiesers vertel nie –  minstens nie in Jeffreysbaai nie.  Ook nie ‘n enkele nuusbrief nie.  Niks.

Swak, DA, Swak!

Uit die leiersgeledere gaan dit net so beroerd.  Wanneer laas het die DA ‘n media-verklaring oor een van die eindelose omstrede kwessies in die munisipaliteit uitgereik?  Die enigste kere dat ‘n mens ‘n senior raadslid se naam in ‘n koerant sien is wanneer hulle om kommentaar genader word of hier en daar ‘n brief skryf.

Swak, DA, Swak!

Weinig, indien enige,inisiatief word geneem om hul standpunte aan die kiesers oor te dra. Die kiesers wil weet wat sê die party vir wie hulle gestem het en wat weer hulle stemme gaan vra.

Die DA sal tot die besef moet kom dat hy nie op koerante kan staatmaak om sy nuus oor te dra nie.  Eerstens het die twee plaaslike koerantjies te min ruimte.  Tweedens is daar ‘n yslike verskil tussen wat die DA in die koerante wil hê en wat die koerante wil/sal plaas.  Hou op kla hieroor.  Maak ‘n ander plan.

As ‘n mens ‘n probleem het, kry hulp by jou familie en vriende waarop jy staatmaak.  Maar jy moet ontvanklik wees daarvoor.

In Kouga is daar  DA-ondersteuners wat hulp sal gee en met slim planne vorendag sal kom.  Dinkskrum hulle.

Seerseker het die DA al hierdie eenvoudige plan bedink.  Die vraag is of die plaaslike DA hierdie hulp wíl inroep.  Of wil hy op homself aangewese bly?

Het die DA-leierskap iets met hierdie afsydigheid te doen?  Strek dit altemit verder?  Na Elza van Lingen?   Dit lyk so.  Die tekens is daar.

Gebruik die tegnologie in al sy glorie.  Dis 2012, demmit.  Begin met ‘n enorme “Aksie e-pos-adresse”.

Gebruik ‘n bietjie verbeelding.

Dit herinner aan die grappie van die prediker wat vertel het dat daar in die hel ‘n geween en ‘n gekners van tande sal wees.  En dié wat nie tande het nie, sal met tande “supply” word.  As die DA nie verbeelding het, kan hulle met verbeelding “supply” word.

Die DA is in die eerste linie om die ANC-munisipaliteit oor sy onvermoë om te regeer, aan te vat.  Al werk hulle hoe hard, waaraan ookal, sal die kiesers bly glo hulle lê in hul grafte, want hulle staan nie op en praat nie.

Swak, DA, Swak!

Goeie leestof vir die DA is by:  http://www.idea.gov.uk/idk/core/page.do?pageId=7581964

No comments:

Post a Comment