Thursday, February 16, 2012

Die DA moet (eers) vergeet van Kouga oorneem

Japie Bosch

Daar is al geruime tyd sprake dat die DA ‘n kans het om die beheer van die Kouga-munisipaliteit oor te neem.  Die hoop is dat dit kan gebeur as mnr. Earl Hill, ANC-raadslid vir Pellsrus, onder druk swig en bedank sodat ‘n tussenverkiesing gehou kan word.

Dog, dit lyk onwaarskynlik.

Hill is adjunk-hoof by ‘n laerskool.  Daar is glo geruime tyd klagtes dat sy verpligtinge as deeltydse raadslid sy werk by die skool laat skade ly.  As gevolg hiervan het Hill, volgens ‘n betroubare bron, al twee keer bedank, maar die ANC wil hom nie laat gaan nie.

Hy word as‘t ware in watte toegedraai, want die ANC weet sy vertrek sal die moeder van tussenverkiesings in Kouga meebring.

Die ANC regeer tans met 15 raadslede teenoor die DA se 14.  Die DA sal alles moontlik doen om te wen om die syfers om te draai.   En daar is goeie kans dat hulle dit sal regkry, want Pellsrus is wenbaar.  Maar Hill moet eers padgee.

Daarby word Bruin kiesers al meer keelvol vir die ANC, omdat daar toenemend teen hulle gediskrimineer word.  Die afgelope naweek is dit opnuut belig.  Daar is berig dat die Wes-Kaapse Department van Korrektiewe Dienste (DKD) weier om sy Bruin werknemers te bevorder, want die die nasionale amptenary oefen druk uit op die provinsie om meer Swart werknemers te kry.

Verlede jaar het mnr Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, ‘n storm veroorsaak toe hy gesê het daar is “te veel Bruin mense in die Wes-Kaap”.

Hierdie soort uitsprake sal ook ‘n kwelling vir Kouga se Bruin mense wees, want hul getalle maak sowat 51 persent van die bevolking in die munisipale gebied uit.  In ‘n tussenverkiesing sal die DA dit tot die uiterste uitbuit.

Terug by Hill en sy onderwyswerk.  Die ANC as ‘n politieke party is nie ten gunste daarvan dat onderwysers raadslede is en twee salarisse verdien nie, maar daar is nie wetgewing wat dit verbied nie.

Vier maande gelede het me Julie Killian van COPE in die parlement vrae gevrae oor onderwysers wat raadslede is.  Die Minister van Basiese Onderwys, het geantwoord dat wetgewing vir die volgende voosiening maak:
·         … educators elected as part-time municipal councillors may continue as employees, but seek approval in terms of section 30 of the Public Service Act, 1994 (as amended) and section 33 of the Employment of Educators Act, 1999, from their executive authority (Minister/MEC) to receive remuneration.
·      “Part-time elected councillors must perform their duties outside working hours. If such employees (educators) have to perform work during official working hours, approval from the executive authority must be obtained.”  (Klik HIER vir die volledige teks.)

Hill het glo toestemming hiervoor gekry.  Daar is dus niks wat hom verplig om te loop nie.

Maar dit is die gemeenskap wat wil hê hy moet uit die raad padgee.  Dis veral die skoolouers wat kla dat hy te veel van die skool afwesig is en nie sy werk kan doen nie.

Deeltydse raadslede vertel dat hulle maklik 20 ure per maand in kantoortyd aan vergaderings moet afstaan.  ‘n Raadslid wat ‘n wyk verteenwoordig en sy werk doen, bestee minstens nog 30 na 40 ure per maand aan sy werk.  Hill is dus maklik minstens een dag ‘n week nie by die skool nie.

Hill weet sy toekoms lê by die onderwysdepartement.  Een van die dae kan hy skoolhoof word.  Boonop is hy in die onderwys, anders as in die politiek, verseker van sy werk en ‘n goeie pensioen eendag.

Hoekom hy ná twee bedankings nog nie weg is nie, is kom vreemd voor.  Hy wíl mos loop.

Die antwoord hiervoor moet gesoek word by die wyse waarop die ANC politiek bedryf.  Terwyl die ANC weet daar is ‘n risiko dat hy ‘n tussenverkiesing kan verloor en die beheer van Kouga met sy R500 miljoen-begroting aan die DA sal afstaan, sal Hill met fluweelhandskoene hanteer word.

Dít maak die kanse skraal dat Hill in die afsienbare toekoms sal oppak en groet.   Vir eers moet die DA vergeet van Kouga oorneem.

Intussen het Hill nie ‘n sê oor sy toekoms en sy skool se belange nie.  Daaroor voel die ANC vere. 

No comments:

Post a Comment