Friday, March 9, 2012

Het raadslede uitgestap?

Japie Bosch

Nabetragting is nodig oor die uitstappery van vyf van die ses teenwoordige DA-raadslede by die algemene jaarvergadering (AJV) van die Jeffreysbaaise Inwonersvereniging op 22 Februarie 2012 in die Newtonsaal.

Raadslede Nico Botha, Mercia Ungerer, Danny Benson, Brenton Williams en Henda Thiart het die vergadering saam met DA-politikus Elza van Lingen  verlaat pas nadat sy ‘n toespraak gelewer het.  Net raadslid Dave Aldendorff  het agtergebly.

Met verwysing daarna het Trevor Watkins, voormalige voorsitter van die vereniging, op die vereniging se blog snedig geskryf dat dit nie “n nuwe of ongewone gebeurtenis is nie”.

Hiermee het hy waarskynlik verwys na die geleenthede waartydens die DA-raadslede in Kouga tydens raadsvergaderings uitgestap het.  Waar elders het hulle dit al gedoen?

Die twee geleenthede kan nie mekaar vergelyk word nie.

Uitstappery by raadsvergaderings is al donkiejare ‘n verskynsel by die opposisie om hul sterkste vorm protes teen ‘n voorstel van die regerende party te kenne te gee.

By die AJV was daar ander redes.  Wat kon daardie redes wees?  Gedagtig aan gebeure in die jongste verlede was dit myns insiens die volgende:
·    Solidariteit met Van Lingen, omdat sy die DA-leier in die Nasionale Raad van Provinsies is en glo spesiaal net vir die AJV na Jeffreysbaai gereis het.  Hulle het soos kuikens onder Moeder Hen se vlerke gaan inkruip om ‘n bietjie van haar liefde te kry.  Was Van Lingen nie daar nie, sou min van hulle waarskynlik by die AJV opgedaag het.
·    Minagting van die inwonersvereniging, omdat hulle (die vereniging) die DA-raadslede tot verantwoording roep.  Dit is die vereniging se eie skuld, omdat hy dit op ‘n rigiede wyse doen.
·    ‘n Vrees vir vrae van die gehoor.  In dié verband is die vrae (stellings?) van die gehoor al te dikwels onregverdig.  Die DA regeer nie Kouga nie en kan nie die flaters in die munisipaliteit regstel nie, maar die gehoor haal hul frustrasies met skerp woordgebruik op die opposie-raadslede uit.  Die ander kant van die saak is dat van die DA verwag word om baie duidelike standpunte te stel en hul planne van optrede moet verduidelik.  Hieraan is daar ‘n gebrek.  Dit frustreer ‘n gehoor net so baie.
·    'n Mens kan nie help om te wonder of die gehoor van sowat 100 altemit te klein vir dié “belangrike” mense was nie.

Raadslid Dave Aldendorff het vanoggend verduidelik waarom hy nie die AJV verlaat het nie.  Op navraag het hy in ‘n e-pos geskryf:  Daar is niks sinister oor die raadslede wat die vergadering verlaat het, nadat Elza klaar (gepraat) het nie. Na afloop daarvan het die voorsitter haar bedank en haar verskoon, omdat hy met die vergadering wou voortgaan.  Sy het vertrek en die ander raadslede wat nie lede van die JBRA het gevolg. Ek is ‘n ten volle opbetaalde lid (van die vereniging) en daarom het ek agtergebly”.

No comments:

Post a Comment