Tuesday, March 13, 2012

Plaaslike herwinningsprojek ‘n riem onder die hart

Barry Vosloo

So dan en wan haal opbouende nuus in Jeffreysbaai die hoofopskrifte van die media.

Soos die meeste positiewe nuus, is dié berigte nie-polities van aard. The Courier – Die Koerier, synde ‘n politieke blog, plaas dit nietemin omdat dit aangrypende nuus is - ongeag ons lesers se politieke voorkeur.

Die Jeffreys Bay Recycling Project is ‘n projek van die Rotaryklub van Jeffreysbaai. Lg. is jare lank reeds bekend vir die uitstekende diens wat hulle aan die gemeenskap lewer.

Die Jeffreys Bay Recycling Project het in Januarie 2011 ontstaan. Die doel daarvan is om kinders te help om hulself te help terwyl hulle die omgewing skoon hou. Die voordele wat dit vir omgewingsbewaring en die opvoeding van die kinders inhou, is voor die hand liggend.

Die kinders van Pellsrus en omgewing versamel bottels, koeldrankblikkies, plastiek en ander herwinbare material. Dit word dan elke Maandag na die herwinningsperseel en ruilwinkel in Pellrsrus geneem. Hier word die rommel geweeg en die kinders ontvang punte wat hulle vir mulas (koeldrankdoppies wat met ‘n hamer platgeslaan is!) kan omruil. ‘n Mula is 'n betaalmiddel wat hulle kan gebruik om goedere in die ruilwinkel te “koop”.

Die ruilwinkel “verkoop” items soos speelgoed, skryfbehoeftes, kinderboeke, klere en basiese kossoorte. Tans benodig hulle veral goeie tweedehandse kinderklere. Die winkel maak staat op skenkings deur plaaslike sake-ondernemings en die gemeenskap van Jeffreysbaai.

Die Jeffreys Bay Recycling Project het reeds verstommende sukses behaal. Volgens hulle webwerf het 2069 kinders die afgelope jaar 82 515 kilogram rommel versamel. Die rommel word gelewer aan Green Guardian wat daarvoor betaal. Die geld word aangewend om winkelvoorraad aan te koop. Dit is genoeg vir omtrent 25% van die voorraad wat benodig word.

Hierdie prysenswaardige projek word deur ‘n dinamiese Jeffreysbaaise Rotariër bestuur. Haar naam is Carina de Flamingh. Sy word deur sowat 20 vrywilligers bygestaan. Die projek benodig egter dringend nóg helpers, veral mans om die skaal te beman. Carina se telefoonnommer is 079 513 5844 en haar e-posadres, deflamingh@live.co.za
      

No comments:

Post a Comment