Thursday, November 17, 2011

Politiek seëvier weer eens.

Cindy Liebenberg
Our Times, 18 November 2011

Die regering het onderwysers onlangs verbied om as wykraadslede te dien.

Onderwysers moet kies – dis óf die een óf die ander – want die staat is nie bereid om aan hulle dubbele salarisse te betaal nie.

Hier in die Kouga, en meer spesifiek Wyk 2, is raadslid Earl Hill reeds jare lank ‘n gerespekteerde onderwyser verbonde aan Pellsrus Primêr, asook ‘n bekende in skolerugbykringe.

Hill moes dus kies tussen skoolhou en raadslid wees.

Sou Hill bedank as raadslid, is die dilemma vir die ANC dat hulle die Kouga met slegs een setel in die munisipale verkiesing gewen het. Boonop het die ANC Wyk 2 met minder as 200 stemme verower. ‘n Tussenverkiesing sou dus ‘n groot risiko vir die ANC wees.

Hoe nou gemaak?

Maklik. Jy doen eenvoudig aansoek by die provinsiale raad om die burgemeesterskomitee van vyf na ses lede te vergroot om Hill te akkommodeer en voilà, hy verdien aansienlik meer as in die onderwys en kan aanbly as wykraadslid.

Die onderwys verloor nou wel een van sy knap leerkragte, maar die politiek seëvier en die belastingbetaler moet oudergewoonte hoes.

No comments:

Post a Comment