Thursday, November 17, 2011

Kouga-raadslid in hof oor klag van bedrog

Richard Roberts
Die Burger, 16 November 2011

'n Kouga-raadslid verskyn binnekort weer in die hof op 'n aanklag van bedrog.

Mnr. Vernon Stuurman is verlede Donderdag reeds in hegtenis geneem en het Vrydag in die hof verskyn. Sy saak is uitgestel en hy is op waarskuwing vrygelaat, het ao. Marianette Olivier, polisiewoordvoerder, gesê.

Stuurman (42) het na bewering skenkings aanvaar vir 'n kollega se siek vrou. Die bedrag van R10 000 het na bewering nooit by die vrou uitgekom nie.

Die geld is glo deur 'n sakeman van Jeffreysbaai aan die vrou geskenk. Stuurman het glo die skenking namens die familie ingevorder.

"Die sakeman het die saak teen Stuurman aanhangig gemaak," het Olivier gesê.

"Die munisipaliteit is nie bewus van raadslid Stuurman se inhegtenisneming nie. Ons kan nie kommentaar lewer alvorens ons die besonderhede het nie," het me. Laura-Leigh Randall, woordvoerder van die munisipaliteit, gisteraand gesê.

No comments:

Post a Comment