Wednesday, November 9, 2011

Dié wet gaan min doen vir taal

Hoofartikel
Die Burger, 9 November 2011

’n Herhalende kenmerk van die ANC is dat hy vol mooi woorde en voornemens is. Maar wanneer dit kom by die dóén, die praktiese uitvoer van die pragtige planne, val hy maar te dikwels platter as ’n sleg gebakte pannekoek.

Dit geld ook vir die nasionale taalwets­ontwerp, wat pas opgestel is nadat die ANC al jare lank voete sleep en sy arm uiteindelik tot in die konstitusionele hof gedraai moes word om dit te doen. Dít ondanks die feit dat die Grondwet dit vereis.

Die wetsontwerp stel helaas teleur. Dis al weer vol mooi woorde en ideale, maar bete­ken nie veel in die praktyk nie.

Daar is veral twee besware.

Ten eerste is die dokument flouerig as dit kom by die bevordering van meertaligheid, en Afrikaans en ander inheemse tale hoef nie veel daarvan te verwag nie. Nie dat ’n mens anders vermoed het nie, want die ANC voel nou eenmaal nie veel vir Suid-Afrikaners se inheemse tale nie.

Tweedens bevat die wetsontwerp geen tande nie; geen meganisme om selfs die flou meertaligheidselemente af te dwing nie. Pansat, synde die beste instrument om meertaligheid te hanteer, bly ’n wanbestuurde en tandelose bulhond wat deesdae nie eers meer ’n hees blaf kan gee nie.

Nee, as mense wat glo in die behoud van inheemse tale – Afrikaanssprekendes van alle rasse inkluis – hul tale wil bewaar en uitbou, moet hulle helaas nie op die ANC staatmaak nie. Hulle sal dit self moet doen.

No comments:

Post a Comment