Wednesday, November 16, 2011

Munisipaliteit skud vere reg vir vakansieseisoen

Barry Vosloo

The Courier – Die Koerier het verneem dat die Kouga-munisipaliteit volstoom aan die werk is om die skare vakansiegangers te ontvang wat eersdaags in die Kouga verwag word.

Sekuriteit en brandbestrydingsmaatreëls geniet voorrang. Bykomende tydelike brandweermanne en verkeers- en sekerheidsbeamptes sal in diens geneem word. Wetstoepassingsbeamptes sal opdrag kry om streng op te tree teen persone wat hulle skuldig maak aan die gebruik van alkoholiese drank – veral op Dolfynstrand wat onlangs die sewende keer blouvlagstatus verwerf het. ‘n Viertrekbakkie en quad-fiets sal gehuur om ons strande te patrolleer.

10 strandwagte sal in diens geneem word om op Dolfynstrand diens te doen. Hulle sal spesiale veiligheids- en eerstehulptoerusting ontvang.

Benewens die 41 openbare toilette op Jeffreysbaai, sal ‘n groot aantal bykomende chemiese toilette gehuur en op strategiese plekke geplaas word.

En les bes, bykomende tydelike vullisverwyderaars sal aangestel word om die verwagte toename in huishoudelike afval te hanteer.

Tot dusver verdien die munisipaliteit volpunte vir beplanning. Ons hou duim vas dat hulle die planne ten uitvoer sal bring.

Maar dis nie alles maanskyn en rosegeur nie.

Die onooglike parkeerterrein by Dolfynstrand sal nie vanjaar geteer word nie. Durf ons uitsien dat die stuk grond in die nabye toekoms wél aandag sal geniet? Die munisipaliteit sê ‘paving must stand over’.

Hierbenewens het die goeie reën wat die afgelope paar maande uitgesak het die gras op sypaadjies en in openbare plekke weliger laat groei as gewoonlik. Dog die verouderde/stukkende grassnytoerusting het, volgens die munisipaliteit, ‘a negative impact on productivity’. Dit wil dus voorkom asof nuwe toerusring nie nou aangeskaf sal word nie. The Courier – Die Koerier wonder egter waarom dié taak in die vakansieseisoen nie maar uitgekontrakteer kan word nie.

No comments:

Post a Comment