Wednesday, November 23, 2011

Korrupsie en omkopery aan die vererger in Suid-Afrika

Barry Vosloo

Volgens die RSG se 08:00-nuusbulletin op 23 November 2011, is korrupsie en omkopery volgens 'n meningspeiling deur die teenkorrupsie-organisasie, Transparency International, aan die vererger in Suid-Afrika.

Transparency International beskryf sy rol soos volg: “[It] is the global civil society organisation leading the fight against corruption. Corruption is defined by Transparency International as the abuse of entrusted power for private gain.”

RSG berig voorts: “In vier van die ses lande in suider-Afrika wat deelgeneem het, het mense aangedui dat hulle omkoopgeld betaal om dienste te versnel. In Suid-Afrika en die Demokratiese Republiek van die Kongo is meer omkoopgeld betaal om probleme met die owerheid te vermy. In die peiling is meer as ses duisend mense in die DRK, Malawi, Mosambiek, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe uitgevra. In die streek is 62 persent van die mense van mening dat korrupsie in die afgelope drie jaar erger geword het. Diegene wat in al ses lande deelgeneem het aan die peiling, het die polisie as die mees korrupte diensverskaffer uitgewys.”

Die polisie mag die mees korrupte diensverskaffer in Suid-Afrika wees, maar ewe onrusbarend is Transparency International se Junie 2011-verslag oor aanspreeklikheid en integriteit in primêre onderwys in Suid-Afrika. Die verslag lui onder andere: “There is a general concern among the schools’ leadership of embezzlement occurring at the provincial level. One out of three principals thinks the highest risk is related to the embezzlement of funds, e.g. when procuring textbooks, remunerating staff and constructing school buildings.” Lees verder ...

Onlangse gebeure gee min hoop dat die situasie met betrekking tot korrupsie sal verbeter. Beeld (23 November) se hoofartikel bestempel die aanvaarding van die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting gister in die Nasionale Vergadering as “’n geniepsige slag vir die oop, deursigtige demokrasie wat in 1994 met groot pyn en opoffering in Suid-Afrika tot stand gebring is.” Die skrywer is van mening dat dit die teelaarde skep vir die verberging van korrupsie. Lees verder ...

Suid-Afrikaners kan nie verkwalik word nie as hulle soos N P van Wyk Louw wonder:

“O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit 'n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?”

No comments:

Post a Comment