Wednesday, October 19, 2011

Raadslid Thiart en haar wykskomitee woel en werskaf

The Courier – Die Koerier het betroubaar verneem dat raadslid Henda Thiart en haar wykskomitee die wiele aan die rol gesit het om ‘n ou-ou problem in Planestraat weer eens onder die aandag van die Kouga-munisipaliteit te bring en aan te dring dat iets aan die saak gedoen word.

Die eienaars van die eiendomme aan weerskante van die parkeerplek waarvandaan ‘n mens die Noorkapper-walvisse kan dophou en wat bekend staan as Openbare Ruimte 2434, is raadop. Hulle is al jare lank bekommerd oor die skadelike uitwerking van die parkeerplek op die duin en die duineplantegroei. Die Kouga-munisipaliteit het egter tot dusver weinig ag op hulle pleidooie geslaan.

Hulle het ten einde raad Coastal & Environmental Services van Grahamstad opdrag gegee om ‘n omgewingsimpakstudie van die parkeerplek te onderneem. Die eienaars is bereid om self die koste van die studie en herstelwerk te dra

Coastal & Environmental Services het bevind dat die parkeerplek inderdaad sleg vir die duin is. Hulle het onder andere aanbeveel dat die gekompakteerde gruis verwyder en plaaslike bogrond ingery behoort te word. Daarna moet die duineplantegroei op die terrein hervestig word. Hierbenewens behoort parkeerplekke in die straat, ‘n wandelstrook en ‘n uitsigplatform aangebring te word sodat die publiek na die walvisse kan kyk sonder om die omgewing te beskadig.

Die wykskomitee was die vertoë goedgesind en raadslid Thiart het onderneem om die munisipaliteit te versoek om Coastal & Environmental Services se aanbevelings by ‘n raadsvergadering ter tafel te lê.

The Courier – Die Koerier het intussen verneem dat twee Kouga DA-swaargewigte die munisipaliteit binnekort sal nader om uit te vind wat die stand van sake in verband met die perseel is.

No comments:

Post a Comment