Wednesday, October 26, 2011

Hof vir Klein Eise.

Japie Bosch
OUR TIMES, 16 September 2011

KOUGA se mense maak veels te min gebruik van die Hof vir Klein Eise om uitstaande skuld in te vorder.  Dit hoef jou feitlik niks te kos nie.  Dié hof kan eise van tot R12 000 hanteer.

Só sê Marius Kriek, bestuurder van die landdroskantoor op Humansdorp.

Slegs private persone mag eise by dié hof indien.  Eise kan nie teen die staat ingestel word nie, maar wel teen ‘n munisipaliteit, sê Kriek. [Lees ook "Driver sues, wins pothole case" deur hier te klik - The Courier - Die Koerier]

Die proses om ‘n saak aan die gang te kry is eenvoudig en die koste min. Amptenare van die hof is behulpsaam om ‘n saak einduit te voer.  Die enigste koste is R60 vir die balju om ‘n aanmaningsbrief by die skuldenaar af te lewer en nog R60 om ‘n dagvaarding te bestel.  Om dié vry te spring, kan ‘n mens dit persoonlik aflewer of per geregistreerde pos stuur.

Geen regsverteenwoordiging word toegelaat nie.  “Elke ou sing sy eie lied,” sê Kriek.

Uitsprake in dié hof is net so geldig soos ‘n uitspraak in enige ander hof.  As ‘n persoon, nadat vonnis gegee is, steeds nie die skuld betaal nie, kan die proses verder gevoer word.  Dit kan meebring dat beslag op eiendom gelê en dit op ‘n veiling verkoop word.

Die belangrikste toets of ‘n saak aangehoor kan word, is dat die bedrag wat geëis word, bepaal kan word.  Dit is ook noodsaaklik dat goeie bewyse gelewer word en/of dat getuies beskikbaar is.

Sake word vrywillg deur regsgeleerdes aangehoor. In Humansdorp is dit hoofsaaklik plaaslike prokureurs.

Kriek sê tans word sowat ses tot agt sake elke tweede Maandagaand aangehoor.

“As die hof beter benut word, sal meer sittings gehou kan word.  Mense behoort nie sku of bang vir hierdie hof te wees nie.  Die atmosfeer hier is minder styf.  Eis jou geld op as jy ‘n saak het.”

Hankey is die enigste ander plek in Kouga waar daar ook ‘n Hof vir Klein Eise is.

No comments:

Post a Comment