Thursday, December 1, 2011

Verdwaal se kinders

Hieronder volg ‘n uittreksel uit 'n nuusbrief deur die leier van die Demokratiese Alliansie, Helen Zille, gedateer 30 November 2011.

“Byna toevallig lees ek in 'n koerant die verhaal van die vier Mmupele-kinders, van 'n plekkie genaamd Verdwaal in die Noordwes-provinsie, wat aan honger en dors in die veld gesterf het. Hulle het gaan soek na hulle ma (en suster) wat vroeër op 'n naburige plaas kos en werk gaan soek het. Die kinders was onderskeidelik 9, 7, 6 en 2 jaar oud. Die berig meld dat hulle waarskynlik reeds voor hulle soektog al erg uitgehonger was. Dit was ontsettend warm – die kwik het tot oor die 40°C gestyg – en hulle het tussen 10 en 14 km ver in die blakerende son gestap voordat hulle weens uitputting, honger en ontwatering beswyk het. Eers is die jongste twee gevind waar hulle naby mekaar gelê het. Die twee oudstes is later, verder weg, dood aangetref. Die ergste van alles is dat die 6-jarige aan TB gely het, gestremd was en mank geloop het.

In 'n demokrasie wat spog met 'n menseregte-handves en kindertoelaag-veiligheidsnet (juis om te verhoed dat kinders van honger vergaan) skrei hierdie aaklige gebeure ten hemele.

In dié verband was die optrede van die ANC-lede in die Noordwes Provinsiale Parlement berekend onsensitief toe hulle 'n voorgestelde DA-mosie van medelye met die dood van die Mmupele-kinders verwerp het.

Toe ek hiervan verneem, het al die ANC se latere amptelike vroompraatjies oor die tragedie my koud gelaat.

Nie een van die kinders kon die beskikbare kindertoelaes ontvang nie, want nie een van die moeders besit ID-dokumente nie.

Volgens mev. Martha Mmupele, sukkel sy al baie lank om haar ID te kry, maar haar aansoek word telkens verwerp – haar van op haar doopsertifikaat verskil glo van dié op haar moeder se ID-dokument.

Die waarnemende bestuurder van die Departement van Binnelandse Sake, Noordwes provinsie, Irene Mantlhasi, verwerp hierdie weergawe en beweer dat Mmupele nie die waarheid praat nie.

Mnr. Vuyisile Ngesi, segsman van die Noordwes se provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, skryf die dood van die kinders toe aan onkunde oor die beskikbaarheid van maatskaplike dienste, asook 'n gebrek aan ouerlike toesig.

Me. Irene Khula, "hoofopleier en dataverwerker" in die Department van Maatskaplike Ontwikkeling in Noordwes se "Oorlog teen Armoede"-projek, het gesê dat haar department onbewus was van die volslae armoede in daardie gebied omdat Verdwaal nie op die lys verskyn wat die nasionale departement aan die provinsie gestuur het nie.

Die nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het R8,8 miljoen meer as wat begroot is, gespandeer. Die meeste hiervan was op buitelandse reise wat personeel onderneem het. Nadat hierdie rondreisende amptenare hulle ruim departementele bronne uitgeput het, het hulle bloot, om verdere reise te finansier, heengegaan en dit uit die begroting vir kinderprojekte onttrek.

In die week wat voorlê, sal die departement se amptenare weer eens na gesogte bestemmings oral in die land op reis wees om die "16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders" te gedenk.

Elke provinsie is versoek om busse te borg vir hierdie plesiertogte. Die Wes-Kaap het volstrek geweier. Ons het veel meer dringende behoeftes in hierdie tydperk wat geld verg. Die betekenislose partytjies wat aan amptenare die verskoning bied om uitgebreide reise te onderneem, kwalifiseer nie."

No comments:

Post a Comment