Wednesday, December 14, 2011

DA-oorwinnings net 'n voorsmaak van toekomstige politieke herskikking

Die onderstaande is ‘n uittreksel uit SA vandag, ‘n nuusbrief wat weekliks deur die  leier van die Demokratiese Alliansie, Helen Zille, uitgereik word:

“Die herskikkingsproses in ons politiek is vir meer as 'n dekade reeds aan die gang. Hierdie proses sal in die volgende paar jaar aansienlik versnel.

Die uitkoms daarvan sal 'n tweepartystelsel oplewer waar mag vreedsaam, deur middel van die stembus, van hande kan verwissel. Politici sal verantwoordelik gehou kan word omdat kiesers sal verstaan dat die stembus mag in hulle hande plaas.

Die Demokratiese Alliansie vorm die kern van een van dié twee hoofpartye; die ander is die ANC.

En, teen 'n pas wat waarneembaar versnel, verskuif die mag vanaf laasgenoemde na eersgenoemde.

Soms gebeur herskikking sprongsgewys – soos deur 'n skeuring in die ANC of deur die samesmelting van twee opposisiepartye, soos dié tussen die DA en die Onafhanklike Demokrate.

Soms gebeur dit deur middel van sulke klein treetjies dat die meeste kiesers dit byna nie eers waarneem nie.

Maar kumulatief, so met verloop van tyd, word die punt bereik waar nog 'n druppel die emmer laat oorloop en die regerende party 'n verkiesing verloor. Dit het reeds met die Wes-Kaap gebeur, asook in baie Suid-Afrikaanse munisipaliteite.

Soos wat die proses versnel en mens die kolletjies verbind, word die patroon al duideliker.

Verlede week het drie tussenverkiesings in uiteenlopende dele van Suid-Afrika juis sulke prominente "kolletjies" opgelewer. Dit was Thaba Chweu, Mpumalanga; Thembelihle in Hopetown, Noord-Kaap en die derde in KwaKwa. Net ses maande gelede, tydens die plaaslike verkiesings, het die ANC nog al drie wyke gemaklik gewen.

Dit is ons in die DA se rol om die tekens reg te lees, die politieke tendense raak te sien en ons party dan reg te posisioneer om sy plek in die nie-rassistiese sentrum in te neem.

As ons daarin kan slaag, sal ons Suid-Afrika reeds voor die einde van hierdie dekade regeer.

Daar is, myns insiens, nou meer rede as ooit om optimisties te wees oor ons demokrasie se toekoms."

No comments:

Post a Comment