Saturday, October 15, 2011

Tweedrag

Die bestuurskomitee van die DA-tak van Wyk 3 het op 12 Oktober sy kwartaallikse vergadering gehou. Tydens die vergadering het die voorsitter, dr. Barry Vosloo, gesê dat hy as ‘n lid van die DA én die Jeffreysbaai-inwonersvereniging bekommerd is oor die twis wat tans in die openbaar tussen die Jeffreysbaaise DA-raadslede en die inwonersvereniging woed.  

Vosloo het toegegee dat daar soms meningsverskille tussen dié twee instansies sal ontstaan. Beide probeer per slot van rekening om na die belange van die plaaslike inwoners om te sien. “Geskille behoort myns insiens egter in die komiteekamer en nie in die openbaar nie besleg te word,” het hy gesê.

Vir The Courier – Die Koerier lyk dit asof beide partye skuld het aan dié tweedrag. DA-raadslede beskuldig die inwonersvereniging van onbeskoftheid en arrogansie. Die inwonersvereniging meen weer dat die DA-raadslede traag is om hulle samewerking te gee.

Vosloo sê sy pleidooi is eenvoudig: “Skuif die struikelblokke opsy en dien my belange as 'n DA-ondersteuner en 'n ondersteuner van die Jeffreysbaai-inwonersvereniging.”

No comments:

Post a Comment