Wednesday, October 5, 2011

SA moet bloos oor visum-blaps

Die Suid-Afrikaanse regering se hardkoppigheid oor ’n visum aan die Dalai Lama is kleinlik en ondergrawe die waardes waarop die jong demokrasie gebou is.

Watter gevaar sou ’n besoek van die 76-jarige geestelike leier van Tibet aan sy vriend en mede-Nobelpryswenner emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu inhou? Wat is die risiko as die twee saam die 80 kerse op Tutu se verjaarsdagkoek aansteek as die Dalai Lama nie eens meer Tibet se leier in ballingskap is nie?

Tog sien die regering sy weg oop om vuige diktators soos pres. Robert Mugabe en Jean-Bertrand Aristide met ope arms te ontvang.

Pres. Barack Obama het dieselfde les geleer toe hy die eerste Amerikaanse president in Oktober 2009 geword het wat nie die Dalai Lama in die Withuis wou ontvang nie.

Waarom het Obama dan in Julie vanjaar besluit om dié geestelike leier wel te ontvang? Hy het besef die ekonomiese voordele weeg nie op teen die verwatering van die kernwaardes in die Amerikaanse grondwet nie. Hy het besef dat China op die verwatering van nog menseregte sal aandring as hy sien hoe maklik regerings onder druk swig.

Met die gesloer met ’n visum vir die Dalai Lama het die Suid-Afrikaanse regering gewys hy het weinig begrip vir die grondbeginsels van vryheid van assosiasie en spraakvryheid in die Grondwet .

Selfs lojale ANC-lede sal vandag met reg vra hoe die regering se optrede dan strook met die waardes wat die ANC in die bevrydingstryd aangehang het.
 

- Die Burger

No comments:

Post a Comment