Friday, October 7, 2011

Koerat ontken bankrotskap

Piet Liebenberg
OUR TIMES, 7 Oktober 2011

KOUGA Burgemeester Booi Koerat het erken die vorige bedeling het te veel mense aangestel. Dit is een van die redes waarom die munisipaliteit sukkel om sy finansiële verpligtinge na te kom, het hy gesê by die vergadering van die
Jeffreysbaai-inwonersvereniging op Woensdag 5 Oktober in die Newtonsaal. Hy het beklemtoon dat hulle alles in hul vermoë doen om hul krediteure en personeel te betaal.

Lede van die vereniging het dit bemoedigend gevind dat die burgemeester en Sydney Fadi, die huidige waarnemende munisipale bestuurder, die vergadering bygewoon het.

Een lid het gesê: “Die vorige burgemeester, Robbie Dennis, was altyd te bang om sy gesig hier te wys.”

Die vergadering is goed ondersteun deur sowat 120 lede van die publiek. Die DA se raadslede Dave Aldendorff, Mercia Ungerer, Henda Thiart en Brenton Williams het ook die vergadering bygewoon.

Koerat het gereageer nadat die ondervoorsitter, dr Gustav Barnard, gesê het die munisipaliteit is bankrot en alle inkomste word tans gebruik om salarisse te betaal. Barnard het ook gesê die munisipaliteit moet nie die intensiteit van inwoners se ontevredenheid onderskat nie.

 “Die mense se geduld het opgeraak.”

Hy het ook gesê amptenare van die vorige bedeling het die gemeenskap mislei. Hy het ook die munisipaliteit van planloosheid beskuldig.

In sy repliek het Koerat erken hulle word gekonfronteer deur groot uitdagings.

“Indien die munisipaliteit bankrot was sou ons al toegemaak het,” het hy gesê.

“Wat ons geërf het, is nie wat ons verwag het nie.”

Hy het bevestig personeelonkostes behoort tussen 34% en 36% van totale uitgawes te wees maar dat dit tans sowat 42% is.

Daar word dus beplan om personeelgetalle te verminder maar dat dit binne die raamwerk van die land se arbeidswetgewing moet geskied, het hy gesê.

The Koerier – Die Koerier, wat ook die vergadering bygewoon het, was aangenaam verras met die waarnemende munisipale bestuurder, Sidney Fadi, se siening dat die munisipaliteit primêr ‘n verskaffer van dienste aan die gemeenskap van die Kouga is en nie ‘n verskaffer van werk nie.  Dit staan in skrille kontras met die uitdruklike standpunt van die vorige burgemeester, Robbie Dennis, en die hoof-finansiële beampte, Ridwaan Abdullah, dat die munisipaliteit – weens die feit dat daar nie groot nywerhede in die Kouga is nie – in die eerste plek ‘n werkverskaffer is.

Die voorsitter van die Jeffreysbaai-inwonersvereniging, Trevor Watkins, het gesê hulle is gekonfronteer deur verskeie uitdagings wat hoofsaaklik veroorsaak is deur munisipale amptenare van die vorige bedeling.

Hy het bygevoeg: “Ons kan egter met Koerat saamwerk.”

The Koerier – Die Koerier het uit ‘n ander oord verneem dat daar onmiskenbare aanduidings is dat opponerende politieke partye in die munisipale raad ‘n begeerte het om saam te werk om die Kouga se probleme aan te spreek.

‘n Vars bries? Ons hoop so.

No comments:

Post a Comment