Friday, October 28, 2011

Mazibuko 'n geloofsprong vir die DA

Hoofartikel in BEELD, 28 Oktober 2010

Gister se besluit van die DA se parlementêre koukus om me. Lindiwe Mazibuko te verkies tot leier van die amptelike opposisie is ’n groot sprong vir die DA met implikasies vir die land se politiek.

Enige demokrasie benodig ’n sterk regering en ’n sterk opposisie om optimaal te funksioneer.

Om ’n opposisie te laat groei, is inspirerende leierskap nodig. Mazibuko het haar bewys in die aanloop tot die munisipale verkiesing, toe sy gesoute ANC-politici in die stof laat byt het in debatte.

Daardie vermoë sal haar goed te pas kom in die belangrikste praathuis van almal, die parlement.

Mazibuko se oorwinning kan die politieke konvensie in Suid-Afrika uitdaag. Hoewel sy in haar veldtog om die parlementêre leierskap op nie-rassigheid gefokus het, kan die feit dat sy die eerste swart leier van die opposisie in ons demokratiese parlement is nie misgekyk word nie.

Die lae vlak van landsbestuur waaraan Suid-Afrikaners onder die ANC-regering gewoond moes raak, sou in enige konvensionele demokrasie geil teelaarde vir die opposisie bied. In Suid-Afrika is dit teengewerk daardeur dat die DA relatief min swart steun trek, te min om die ANC na­sionaal uit te daag.

Mazibuko kan help om die DA se beeld te verander as ’n party wat wit belange voorop stel. Maar een swaeltjie maak nie ’n somer nie. Die DA sal baie meer geloofwaardige swart leiers moet kry.

En die belangrikste is dat die DA swart kiesers sal moet oortuig dat sý beleid en sý bestuur van die land swart kiesers meer in die sak gaan bring as die gemors wat die ANC nou van die land maak.

Dan eers kan mens verwag dat ons verkiesings nie soos rasse-tellings sal lyk waar die ANC sy swart steun as vanselfsprekend aanvaar nie.

Mazibuko kan ongetwyfeld baie vir die DA in dié verband beteken.

Haar Achilleshiel is dat sy jonk en onervare is. Sy is 31 jaar oud en haar nuwe pos is uiters taai.

Daar moenie te gou te hoë verwagtinge aan haar gestel word nie.

The Courier – Die Koerier wonder of hierdie gebeure nie die volgende fase van die proses van nasiebou in Suid-Afrika is nie; 'n politieke herskikking waarin "blanke" partye irrelevant raak en die totale bevolking verdeel in 'n hoofsaaklik linkse groepering aan die een kant en mense met meer gematigde politieke sienings aan die ander kant.

Dis 'n proses wat prof. Willie Esterhuise van die Universiteit van Stellenbosch en oudpresident F W de Klerk 'n jaar of drie gelede in die vooruitsig gestel het. De Klerk het toentertyd gemeen dat hierdie herskikking hom binne die volgende tien jaar kan voltrek.

Lees ook wat Dawie in Die Burger te sê gehad het oor die herskikking van die Suid-Afrikaanse politiek.

No comments:

Post a Comment