Wednesday, October 12, 2011

Eis oor salarisse is verregaande

Die voorstel dat munisipale raadslede se salarisse van tussen R158 928 en R337 488 tot R815 000 verhoog word, moet verwerp word.

Veral gegewe die benarde toestand waarin die meeste munisipaliteite hulle bevind, is dit verregaande dat die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) hoegenaamd so ’n voorstel kan doen.

Voordat ’n voorstel oor hoër salarisse vir munisipale raadslede ernstig oorweeg kan word, moet hulle eers begin om hul werk behoorlik te doen. Die (soms gewelddadige) betogings teen swak munisipale dienslewering is ’n sprekende bewys dat belastingbetalers ontevrede is oor wat in die raadsale gebeur.

Daarbenewens is raadslede uiters onverantwoordelik wanneer dit by besteding kom. Mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, het minder as ’n maand gelede aangekondig munisipaliteite kon in die boekjaar 2009-’10 R27 miljard – oftewel R74 miljoen per dag – gespaar het bloot deur onnodige uitgawes soos spyseniering, peperduur motors, borgskappe en buitelandse reise te besnoei.

Dit sal Salga en raadslede betaam om te onthou dat hulle daar is om diens te lewer, nie om hulself te verryk nie. Hulle behoort ag te slaan op Gordhan se waarskuwing: “Los die oortollighede en kry jul beplanning, begrotings, dienslewering en burokrasie reg.”

Wanneer hulle dit reggekry het, kan hulle vra vir salarisverhogings, maar dan moet dit realisties en binne die perke wees van wat die land kan bekostig.

- Hoofartikel in Die Burger, 12 Oktober 2011

Lees ook "Councillors demand huge salary hikes" deur hier te klik.

No comments:

Post a Comment