Monday, October 17, 2011

Raadslid Henda Thiart doen verslag

Inleiding
Die bestuurskomitee van die DA-tak van Wyk 3 het op 12 Oktober sy kwartaallikse vergadering gehou. Tydens die vergadering het raadslid Henda Thiart verslag gedoen oor bepaalde munisipale aangeleenthede

Staande komitees
Sy het gesê dat dit bemoedigend is dat eweveel DA- en ANC-raadslede in al die staande komitees van die raad opgeneem is. Voorheen het bitter min DA-raadslede in die komitees gedien. Uit hoofde van hulle meerderheid in die raad word die voorsitters uit die geledere van die ANC aangewys. Moeite word gedoen om antwoorde op vrae te verstrek.

Thiart dien in twee staande komitees van die raad, naamlik die finansies- en die oorsigkomitee (“oversight committee”). Die finansies-komitee bemoei hom met aspekte soos munisipale begrotings, belastings, rekeningkundige praktyke, tesourie-bestuur, aankope en ouditering. Die oorsigkomitee se taak is om die  finansiële bedrywighede van die munisipaliteit in 2009/2010 in oënskou te neem. Sy het ‘n lys van sowat 50 vrae aan dié komitee voorgelê waarop die betrokke amptenare hopelik eersdaags antwoorde sal verskaf.

Finansiële verslag
Die munisipaliteit sal in Oktober vanjaar ‘n finansiële verslag uitbring wat beoog om die publiek in te lig oor sy finansiële gesteldheid. Dit sal die tydperk vanaf 1 Julie tot 30 September dek. Thiart sê dat dit hopelik dui op die politieke wil om reg te maak wat in die verlede verkeerd geloop het. Die munisipaliteit het daarin geslaag om gedurende hierdie periode binne sy begroting te bly.

Kommer
Volgens raadslid Thiart heers daar nog groot kommer oor oortyd en brandstofverbruik. ‘n Goeie “tracking system” is wel in plek, maar word nie na behore benut nie weens die nie-beskikbaarheid van opgeleide personeel. Agterstallige betaling van munisipale rekeninge is eweneens ‘n bron van kommer. Selfs sommige van die grootste sake-ondernemings in die Kouga skuld derduisende rande aan agterstallige belasting- en dienstegeld. Daar sal binnekort stappe teen wanbetalers ingestel word.

Ongerymdhede oopgevlek
“Die waarnemende hoof-finansiële beampte, Carlien Burger, doen uitstekende werk om die finansiële ongerymdhede van die vorige bedeling oop te vlek en die munisipaliteit se finansiële sake meer vaartbelyn te maak,” sê Thiart. Klik hier om meer hiervan te wete te kom. 

PMS
Die volgende aspek waaroor Thiart verslag gedoen het was die munisipaliteit se “Performance Management System” (PMS). Laasgenoemde verwys na ‘n meganisme wat ingespan word om te verseker dat die munisipaliteit sy mandaat nakom. Dit waarsku vroegtydig wanneer hy onderpresteer sodat daar betyds regrukaksies ingestel kan word. Die PMS word binnekort op ‘n spesiale vergadering onder die loep geneem. Werkskontrakte met personeel sal opgestel word en vir goedkeuring aan die raad voorgelê word.

Kouga Development Agency
Laastens het Thiart die komitee ingelig dat die Kouga Development Agency (KDA) ontbind is. Op die KDA se webwerf word sy missie soos volg omskryf: "To initiate, promote and manage sustainable private and public economic developments thus transforming the Kouga area into a growth point for the benefit of all its communities." Klik hier om meer hiervan te wete kom. Die KDA se funksie sal deur ‘n te stigte eenheid oorgeneem word wat die hele Cacado in plaas van slegs die Kouga sal bedien.

Ten slotte
Ten slotte het die komitee sy waardering vir raadslid Thiart se toewyding  en harde werk uitgespreek.

No comments:

Post a Comment