Wednesday, October 26, 2011

Thyspunt

The Courier – Die Koerier het van raadslid Henda Thiart verneem dat verteenwoordigers van ESKOM op 20 Oktober 2011 vir die eerste keer met die munisipale raad van die Kouga gesprek gevoer het oor die voorgestelde kernkragsentrale wat vir Thyspunt beoog word. Voorheen het hulle nog net met belangegroepe oorleg gepleeg.

ESKOM het beklemtoon dat die vereiste omgewingsimpakstudie nog nie voltooi is nie en dat die regering ook nog nie finale goedkeuring vir die oprigting van die kernkragsentrale gegee het nie.

Thiart het gesê dat ESKOM die raad verseker het dat die Koeberg-kernkragsentrale, wat reeds in 1984 opgerig is, een van die veiligste ter wêreld is. Hulle meen daar is geen rede om te glo dat Thyspunt minder veilig sal wees nie.

Volgens ESKOM verskaf die Koeberg-kernkragsentrale werk aan 1 800 persone en dra dit sowat R300 miljoen by tot die ekonomie van Kaapstad. Dit, sê hulle, beloof veel vir die Kouga.

Die oprigting van ‘n kernkragsentrale by Thyspunt sal sowat ses jaar duur. Dit sluit die opgradering van die padnetwerk tussen Humansdorp en Oesterbaai in.

ESKOM voorsien dat Thyspunt werk aan sowat agt duisend mense sal verskaf. Skole en klinieke sal gebou word en die opgradering van die riool- en watersuiweringswerke sal aandag geniet. 

Raadslid Frances Baxter het gepleit vir die behoud van die historiese nalatenskap van die Khoi wat in die Thyspunt-omgewing voorkom. ESKOM het laat blyk dat Khoi-artefakte moontlik in ‘n museum gehuisves sal word.

The Courier – Die Koerier is ook bewus van hewige weerstand in die Kouga teen die oprigting van ‘n kernkragsentrale by Thyspunt. Klik hier om toegang te verkry tot ‘n goeie samevatting van hierdie ongedurigheid in die JBAYNEWS.COM-webblad

In ‘n voorlegging aan Sivest (die instansie wat die omgewingsimpakstudie onderneem) skryf die St. Francisbaai-inwonersvereniging byvoorbeeld: “We remain of the view that any proposal to take five transmission lines, in two corridors, over almost 150 kilometres, traversing several areas of exceptional natural beauty, and along a tourism route, is completely unacceptable.”

The Courier – Die Koerier het betroubaar verneem dat die Kouga DA binnekort sy standpunt teen of vir die oprigting van die aanleg sal bekend maak.

No comments:

Post a Comment