Saturday, October 8, 2011

Finansiële regrukplan

The Courier – Die Koerier het op goeie gesag verneem dat die Kouga-munisipaliteit voornemens is om ‘n finansiële regrukplan by die volgende munisipale raadsvergadering ter tafel te lê.

Die dryfkrag agter dié plan is glo die waarnemende hoof-finansiële beampte, Carlien Burger.

En wie is Carlien Burger?

Japie Bosch het op 11 Augustus 2010 oor haar verslag gedoen in die blog van die toenmalige Jeffreysbaai-belastingbetalersvereniging. Klik hier en lees die volledige berig.

Bosch skryf: “Sy is slim, sy het ‘n passie vir haar werk, vir haar is iets óf reg óf verkeerd. Sy het ‘n B.Com(Hons) in Rekeningkunde. Vroeër het sy vir vier jaar by ‘n private ouditeursmaatskappy, Grant Thornton, in Port Elizabeth gewerk waar sy haar klerkskap as ‘n geoktrooieerde rekenmeester voltooi het en ‘n jaar as ouditbestuurder aangebly het. Voordat sy by die munisipaliteit aangesluit het, was sy ses maande in diens van die kantoor van die ouditeur-generaal in Port Elizabeth.

Carlien is sewe maande gelede in die pos van risiko- en voldoeningsbestuurder (risk and compliance) by die Kouga-munisipaliteit aangestel. Haar werk, in ‘n neutedop, behels
·          die identifisering van finansiële risiko’s in die munisipaliteit en
·          toesig dat voldoen word aan maatreëls om die risiko’s te elimineer.

Dis ‘n stywe opdrag. Sy sien dit as ‘n groot uitdaging vir haarself en vir die munisipaliteit. ‘Dié pos hou verband met die regering se anti-bedrog en –korrupsieveldtog,’ sê sy. ‘Die fokus hierop het veral uit die kantoor van die ouditeur-generaal skerper geword.’

Carlien is ook by die munisipaliteit se ouditproses betrokke. In die afgelope paar maande het sy reeds verskeie sake wat verkeerd geloop het, reggestel.”

The Courier - Die Kourier vra: sal sy in haar doel slaag om die munisipaliteit uit sy finansiële verknorsing te red of sal sy op die slagveld van politieke dienstigheid sneuwel?

No comments:

Post a Comment