Sunday, April 1, 2012

Zille kritiseer onderwys in Oos-Kaap

RSG-nuusbulletin, 07:00, 1 April 2012

Die leier van die DA, Helen Zille, sê die gemiddelde kind in die Oos-Kaap ontvang waarskynlik swakker onderwys as kinders in sekere dele van die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Zille het in Grahamstad afgevaardigdes by die party se Oos-Kaapse kongres toegespreek.

Sy sê die onderwys het in die grootste deel van die provinsie ineengestort, wat 'n ramp vir toekomstige geslagte beteken.

Zille sê verraad is teen dié kinders en hulle toekoms gepleeg. Sy sê dit word vererger deur die feit dat President Jacob Zuma bereid is om die onderwysersvakbond - SADOU - te steun.

Zille sê hy ondermyn sy eie ministers se pogings om onderwys in die provinsie te verbeter omdat Zuma 'n paar bykomende stemme in Mangaung nodig het.

Die woordvoerder van die ANC in die Oos-Kaap, Mlibo Qoboshiyane, het in sy reaksie gesê die DA leier het nog nooit die tyd geneem om te verstaan wat gedoen word om onderwys in die provinsie te verbeter nie. Hy sê die rol van die gemeenskap - veral vakbonde en kerke - is van die grootste belang vir die onderwys.

Hy het bygevoeg dat Zuma daartoe verbind is om te verseker dat onderrig in alle skole in die land plaasvind.

No comments:

Post a Comment