Friday, April 13, 2012

Die “ hou jou mond “-vergadering

Ludwig Vorster van Jeffreysbaai skryf soos volg

“Tydens die openbare draft budget-vergadering op 11 April in die Newtonsaal, is ‘n lid van die publiek deur die voorsitter, burgermeester Booi Koerat  die woorde “hou jou mond” toegesnou. Dis duidelik dat dié uitdrukking deel van sy algemene gebruikswoordeskat is wanneer hy met die publiek of met jou kinders of met gewone mense praat wat ‘n vergadering bywoon.

Volgens mnr. Koerat en ene mnr. Stuurman was dit nie vir hom nodig om verskoning te vra vir sy woordkeuse nie.

Toe is die rassekaart ook nog gespeel. Koerat het beweer dat witmense neersien op die huidige party wat die meerderheid in die Kouga-raad vorm.

Die persoon wat sy “ mond moet hou “  het toe ook summier die saal verlaat.

Die voorsitter van die Jeffreysbaai-inwonersvereniging, Paul Hjul, het ook beswaar gemaak omdat Koerat se adjudant die vergadering wou oorneem en namens die voorsitter praat. Hy het ook uitgevaar oor die swak organisasie van die vergadering gekenmerk het.

Hierop het die voorsitter hom (Hjul) die leviete voorgelees en mooi laat verstaan hoe sy gedrag op ‘n vergadering behoort te wees. Die voorsitter het beswaar gemaak oor Hjul se “hoë” Engels en die feit dat hy só vinnig praat dat niemand hom kon verstaan nie. Vervolgens het die voorsitter weer eens die rassekaart gespeel.

Myns insiens het die voorsitter en sy adjudant hulle onwaardig en aggressief gedra. Dit was galbrakery op sy beste.

Dit is jammer dat  diegene wat die vergadering bygewoon het nie ‘n mosie van wantroue in die voorsitter ingestel het nie. Jeffreysbaaiers verwag beter gedrag van diegene wie se salarisse hulle betaal.

Dit was ‘n karige, onbevredigende en swakbeplande IDP en Begroting wat ter tafel gelê is, vol wensdenkery en grootdoenerigheid. Dit sal baie interessant wees om te sien wat die Ouditeur-Generaal met sy volgende jaarverslag bevind.”

No comments:

Post a Comment