Thursday, September 22, 2011

Wykskantore is wit olifante

Japie Bosch, Our Times, 22 September
Twee identiese huise wat as kantore vir Jeffreysbaai se raadslede gebou is, staan al 18 maande leeg, omdat die munisipaliteit weier om die sleutels vir die raadslede te gee.

Die een is bedoel vir Mercia Ungerer (wyk 11) en die ander een sal deur Dave Aldendorff (wyk 8) en Henda Thiart (wyk 3) gedeel word.

Dié huise is gebou ingevolge regeringbeleid sodat inwoners toegang tot wyksraadslede kan hê en sodat raadslede se wykskomitees daar kan vergader.  Ungerer se huis is in Dolly Vardonstraat, C-plek en Aldendorff en Thiart is in Maplestraat, Wavecrest.

Albei bestaan uit ‘n voorportaal, ‘n komiteekamer, twee kantore, ‘n klein kombuis en toiletgeriewe.

Intussen is die kantore aan die verniel.  Toe Our Times Vrydag die huis in Maplestraat, oorkant die ou begraafplaas, saam met Aldendorff besoek het, was die skade opmerklik.  Dakteëls het afgeval en lê op die grond, verf dop af, ‘n venster is oopgeforseer en ‘n daklig is weg.

Kouga-woordvoerder Laura-Leigh Randall het gesê:  “Daar is nie meubels en gordyne/blindings in die geboue nie, maar die wyksraadslede is welkom om hulle sleutels te kry en in te trek.

“Ons is nie bewus van skade nie, maar die betrokke amptenary sal more (Woensdag) ondersoek gaan instel. Die raadslede kan dan Donderdag hulle sleutels by die kantoor van die Direkteur: Korporatiewe Dienste kry.”

Die Our Times het ook Ungerer se huis besoek.  Daar is ook skade aan die dak.  Plek-plek is daar nog bougereedskap in die huis.  Albei erwe is met onkruid oorgroei.

Die munisipaliteit is traag om die kantore te  meubileer.  Sowel Aldendorff as Ungerer sê hulle is bereid om dit  op eie koste te doen.  Al wat hulle van die munisipaliteit verlang is dat die skade herstel word en dat die twee erwe skoongemaak word sodat hulle hul die kantore kan benut.  En die sleutels.

Ungerer het verduidelik dat Kouga in 2009/2010 ‘n bedrag van R150 000 aan elke wyk toegeken het wat raadslede na goeddunke in hul wyke kon aanwend.  Sy en dr Nico Botha, destyds raadslid vir Wavecrest, het versoek dat die geld aangewend word vir die bou van die kantore.

Volgens haar is geen soortgelyke toekennings vir 2010/2011 gedoen nie.

Thiart sê die afwerking binne is nie voltooi nie.  Die ligte en muurproppe is nooit volledig geïnstalleer nie en die elektriese aansluiting is nog nie gedoen nie. “Soos dit met ‘n onbewoonde struktuur gaan, is die kantore nou aan die verwaarloos.”

Intussen het Randall die volgende laat weet:  Die amptenary was vanoggend by die wykskantore in wyk 3 en 8. Die slotte is redelik geroes en die munisipaliteit sou dit graag wou vervang voor die wyksraadslede intrek. Dit behoort dié week vervang te word. Die wyksraadslede kan met die Direkteur: Korporatiewe Dienste skakel om te reël vir die afhaal van hulle sleutels”.

No comments:

Post a Comment