Thursday, September 22, 2011

Wyk 3 hou Algemene Jaarvergadering

Die Wyk 3-tak van die Demokratiese Alliansie in die Kouga het onlangs sy algemene jaarvergadering gehou.

Alhoewel die opkoms power was, het die toespraak van die koukusleier van die Demokratiese Alliansie in die Kouga, prof. Chimpie Cawood, heelwat pitkos verskaf.

Hy het gesê dat twee sake wat van groot belang is, is die sterk  groei van die DA se plaaslike ondersteunersbasis en die herskikking van die demografiese samestelling van die nasionale ondersteunersbasis.

Prof. Cawood het daarop gewys dat die Demokratiese Alliansie se steun gedurende die pasafgelope munisipale verkiesing met ‘n verstommende 136% gegroei het. Volgens hom dui dit op toenemende aanvaarding van die beginsels van die Demokratiese Alliansie – veral by die  bruin segment van die bevolking. Swart steun het ook beduidend toegeneem.

Hy het voorts gesê dat die Demokratiese Alliansie se doelwit om die politieke tuiste van alle Suid-Afrikaners te word, dus goed op dreef is. Trouens, die party beoog om teen 2019 die regering van die land oor te neem – sonder om samewerkingsooreenkomste met ander politieke partye te vorm.

Die Koerier sê: Die uitslag van die pasafgelope munisipale verkiesing dek gewis die tafel vir ’n grondliggende herskikking van die politieke landskap in die aanloop tot die volgende nasionale verkiesing in 2014. Klik hier en lees wat Dawie in Die Burger hiervan sê.

Die bestuurskomitee van die tak is ook tydens die vergadering verkies. Barry Vosloo is die nuwe voorsitter, Janus Davel, die nuwe ondervoorsitter en André Joubert, die nuwe sekretaris. Johan Thriart en Rina van Rensburg is as addisionele lede verkies.

No comments:

Post a Comment