Die land se aandag was die afgelope week sterk gevestig op iemand waarvan baie min mense al tevore gehoor het. Nou is regter Mogoeng Mogoeng se naam op almal se lippe, en hy is boonop ons nuwe Hoofregter. In dié hoedanigheid beklee hy een van die belangrikste poste in ons grondwetlike demokrasie. Die aanstelling van regter Mogoeng was omstrede omdat uitsprake en verklarings wat hy in die verlede gemaak het, ernstige kommer oor sy verbintenis tot die verdediging van die Grondwet en die onafhanklikheid van die regbank wek. Meer onlangs het hy selfs méér kommer gewek deur die regbank as ’n “tak” van die regering te beskryf, en homself as ’n werknemer van die regering.
Ons het raad ingewin oor die kwessie of ons ’n regterlike hersiening van Mogoeng se aanstelling moet versoek, maar het daarteen besluit. Hy is nou ons Hoofregter, primus inter pares in die Grondwetlike Hof, wat met die interpretasie en beskerming van ons Grondwet toevertrou word. Ons respekteer sy amp en wens hom alles van die beste toe. Bowenal hoop ons dat hy sy kritici verkeerd sal bewys.
Nogtans is dit geldig om sekere vrae oor sy aanstelling te vra. Het die proses die gees van die Grondwet weerspieël, al was dit tegnies geheel en al binne die letter van die Grondwet? Het dit die bedoeling van ons grondwetonderhandelaars weerspieël, naamlik om omstandighede te verhoed waar ’n president die regters van die land se Grondwetlike Hof eensydig aanstel? Ek dink die antwoord is nee.
Die hele proses rakende Hoofregter Mogoeng se aanstelling bevestig die mate waartoe kaderontplooiing ons Grondwet metterjare ontman het. Ons het ’n punt bereik waar die waarskuwings van Richard Calland, ’n regs-akademikus, bewaarheid is. Die proses behels “’n blote front, elegante versierings van die ware politieke optrede” wat agter die skerms plaasgevind het. Sterk woorde. Kom ek staaf dit.
Eerstens moet die proses vir die aanstelling van ’n Hoofregter in ‘n konteks beoordeel word.
Tydens die “Toegang tot Geregtigheid”-konferensie in Julie het pres. Jacob Zuma die regbank gewaarsku om nie die “magte wat die Grondwet danksy ’n populistiese stemproses aan die regerende party toegeken het te ondergrawe nie”. Hy het versuim om te erken dat die Hof ’n plig het om Parlementswette ongeldig te verklaar wat ongrondwetlik bevind word.
Op 18 Augustus het Gwede Mantashe, die ANC se Sekretaris-Generaal, na berig word gewaarsku dat die Grondwetlike Hof hom nie as “opposisie” teenoor die uitvoerende gesag en die Parlement moet opstel nie.
Dié opmerkings dui op ’n gevaarlike en al hoe meer oorheersende denkrigting in die ANC. Al hoe meer van sy leiers sê hul verkiesingsmeerderheid gee hulle die reg om te maak soos hulle wil, ongehinderd deur ’n onafhanklike regstelsel. Dié is alles as ondermynend, minagtend en ondemokraties beskryf.
Dit is ook waarom pres. Zuma en die ANC só ’n langdurende renons teen die Adjunk-Hoofregter het. Met verwysing na die regbank het hy na berig word gesê: “... dit gaan nie oor wat die ANC wil hê nie ... dit gaan oor wat goed vir ons mense is.” Dié skadelose en vanselfsprekende kommentaar het ’n teenaanval van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee ontlok, en is een van die redes waarom regter Moseneke die heeltyd bevordering misloop. Dit het die aandag van advokate en regters wat graag hul loopbane op die Bank wil bevorder, nie ontgaan nie.
Die ANC het nou ’n situasie geskep wat die Grondwet klaarblyklik wou verhoed. Alle oë is op Mogoeng Mogoeng gerig, maar talle kommentators het die punt misgekyk dat die ware knoop elders lê. Dit is die versuim van die Regterlike Dienskommissie (RDK) om sy grondwetlike mandaat, naamlik die beskerming van die “onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid” van die howe, uit te voer. Sy eerste rol is om “geskikte en gepaste” kandidate vir regterlike aanstellings deur die president te oorweeg, onderhoude met hulle te voer en hulle te benoem.
Die redes vir die skepping van dié liggaam tydens die KODESA-onderhandelings was om ’n situasie te vermy waar die land se uitvoerende gesag die regbank in wese kon kies en só die wigte en teenwigte wat magsmisbruik moet verhoed, kon systap.
Tragies het juis dít gebeur. Die RDK het in wese ’n verlenging van die ANC geword, en verleen nou ’n skyn van fatsoenlikheid aan politieke vooruitbepaling.
In plaas daarvan dat hy sy raadgewende rol uitvoer om te sorg dat ’n Hoofregter uit die beste moontlike kandidate gekies word, het die RDK in wese die President se vooraf bepaalde keuse klakkeloos as “geskik en gepas” aanvaar. Die RDK het die Demokratiese Alliansie (DA) se voorstel dat ander kandidate vir onderhoude benoem moet word, twee maal verwerp, en dus was Mogoeng die enigste kandidaat. In plaas daarvan dat die RDK as ’n noodsaaklike filter optree om magsmisbruik te verhoed, het hy die President se enkele benoemde teen ’n vergelyking met ander kandidate beskerm.
Natuurlik het hulle ’n omslagtige front geskep. Bitter min (indien enige) voornemende Hoofregters elders ter wêreld moet ’n openbare verhoor van twee dae deurmaak.
Die teerling is egter gewerp selfs voordat die proses begin het. Een van die President se benoemdes, adv. Dumisa Ntsebeza, het dit die beste opgesom. In ’n brief aan ’n kollega het hy gesê die President het Mogoeng “in sy wysheid” benoem. Ntsebeza het aangekondig hy het besluit om “uit die kas te klim ... weens die verwoede aanvalle op ’n mede-swart kandidaat deur meestal verskuilde mense wat dalk nie dieselfde ‘struggle’-belange as ons het nie”.
Dit is dieselfde benadering wat ek al té dikwels teëgekom het wanneer ek in die RDK moes dien oor aangeleenthede wat die Wes-Kaapse regbank betref. Ek het tot die terneerdrukkende gevolgtrekking gekom dat dit die “ANC-koukus” in die RDK se belangrikste oorweging is om ’n politieke mandaat uit te voer, eerder as om die Grondwet te beskerm. Dit is juis wat kaderontplooiing voor oë het.
Die RDK se versuim is egter nie net aan ’n “bestuurdersfout” te wyte nie. Daar is ook ’n ernstige ontwerpfout. Die kernprobleem is dat die regerende party ’n meerderheid van die RDK-lede regstreeks of onregstreeks kan beheer. Dit ondermyn die “skeiding van magte” wat in elke demokrasie noodsaaklik is, en sorg dat die RDK nie sy belangrikste mandaat kan uitvoer nie. Die moontlikheid dat hy die RDK kan beheer, was waarskynlik die rede waarom die ANC tydens die KODESA-grondwetonderhandelings hoegenaamd tot die skepping daarvan ingestem het.
Dit het nie onmiddellik gebeur nie. Die strategie het in Junie 2009 egter pynlik ooglopend geword toe Jeff Radebe, die Minister van Justisie, die RDK gedwing het om onderhoude vir aanstellings in die Grondwetlike Hof uit te stel. Hy het uitstel geëis om genoeg tyd te hê om die samestelling van die RDK te verander ten einde te sorg dat die meeste aanstellings die ANC steun. Dis gedoen deur die enkele DA-afgevaardigde van die Nasionale Raad van Provinsies te verwyder. Twaalf van die RDK se 23 lede is tans ANC-politici en -aanstellings.
Die voorspelbare gevolg was verskeie debakels, onder meer die RDK se besluit om die Grondwetlike Hof se aantygings teen regter John Hlope sonder ’n verhoor “af te handel”. Dit is vererger deur die RDK se onlangse besluit om vakatures op die bank nie te vul nie, al was uitstekende kandidate beskikbaar (omdat hulle nie die regte profiel het nie).
Die grootste ironie is dat dié wat die Grondwet verdedig, hulle tot die howe moet wend om besluite van die RDK omver te werp – juis die liggaam wat geskep is om die Grondwet in ere te hou en die belange van die regbank te verdedig.
Ons stel wysigings van die Grondwet maar langtand voor, maar ons dink dis noodsaaklik dat die meeste van die lede van die RDK nie teenoor die regerende party se uitvoerende gesag verantwoording moet doen nie. Dit sal ’n grondwetwysiging vereis wat na ons mening nodig is om ons Grondwet te red.
Op slot van sake kan geen grondwetlike wigte en teenwigte magsmisbruik in die lang termyn verhoed as die kiesers nie die grootste verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie. Tensy hulle verstaan dat hul stem hul mag is, en tensy hulle dit inspan om ’n korrupte regering te verwyder, sal leiers wat hul mag misbruik ongestraf bly, en vasklou aan hul oortuiging dat hulle sal regeer “tot Jesus kom”. As kiesers dié situasie aanvaar, kan hulle net hulself blameer.
No comments:
Post a Comment