Saturday, January 7, 2012

‘n Knuppel in die hoenderhok

Barry Vosloo

The Courier – Die Koerier het onlangs ‘n opskudding veroorsaak toe ‘n berig daarin verskyn het in verband met salarisverhogings wat vir die burgemeester, onder-burgemeester, speaker, burgemeesterskomiteelede en ander raadslede beoog word. Klik hier om toegang tot die berig te verkry.

Eers het ‘n DA-raadslid geëis dat die berig verwyder word omdat dit kwansuis onakkurate inligting sou bevat. The Courier – Die Koerier beskou dié versoek as ‘n aantasting van sy reg tot vryheid van spraak wat deur die Suid-Afrikaanse Grondwet gewaarborg word en het geweier om daaraan te voldoen.

Vervolgens het Piet Liebenberg van Our Times die storie opgetel en ongemaklike vrae begin vra. Hy skryf op 6 Januarie onder andere: “Secrecy surrounds the new rate of remuneration Kouga councillors adopted for themselves [my kursivering] at the last council meeting in December.”

Volgens Our Times het die munisipale woordvoerder bevestig dat nuwe salarisskale deur die Raad goedgekeur is. Hy kon of wou egter nie inligting daaroor verskaf nie. Raadslede Nico Botha en Henda Thiart het darem te kenne gegee dat hulle slegs R16   276 per maand verdien en nie R20 101 soos The Courier – Die Koerier berig het nie.

Nog is het einde niet. Nóg ‘n DA-raadslid het later probeer om met die skrywer van hierdie berig oor The Courier – Die Koerier se rol in die sage in gesprek te tree.

Die vraag ontstaan nou waarom ons verkose verteenwoordigers ‘n sluier van geheimhouding wil trek oor hoveel belastingbetalers hulle betaal.

Ten slotte: die besonderhede oor die nuwe salarisskale het op 14 Desember in die Staatskoerant verskyn. Die inligting is dus openbare kennis.  Dit is juis die doel van die Staatskoerant: om amptelike besluite bekend te maak. Klik hier om toegang tot die betrokke uitgawe van die Staatskoerant te verkry.

                                                                                                           

No comments:

Post a Comment