Wednesday, January 11, 2012

Verklaring deur die Kouga DA oor nuwe salarisskale

Daar word verwys na berigte wat verskyn het in “Our Times” van 6 Januarie 2012, asook in Die Koerier, amptelike “blog” van Wyk 3, Jeffreysbaai.
 
1.  Dit is korrek dat die bo-perke van raadslidtoelaes in die Staatskoerant van 14 Desember 2011 vasgestel is.

2.  Dit is ook korrek dat die Staat ‘n beperkte salarisverhoging van slegs ietwat minder as 5% in die betrokke Staatskoerant aanbevel het

3.  Die vasgesteldebo-perk vir KOUGA (Graad 3) raadslede is soos volg:


Basiese toelae
Vervoer-
toelae
Selfoon-
toelae
Totale
pakket
Burgemeester

R458 921 per jaar
R152 973 per jaar
R37 752 per jaar
R649 646 per jaar
Speaker

R367 137 per jaar
R122 379 per jaar
R18 840 per jaar
R508 356 per jaar
Lid van die burgemeesterskomitee
R344 191 per jaar
R114 730 per jaar
R18 840 per jaar
R477 761 per jaar
Gewone raadslid

R137 677 per jaar
R45 892 per jaar
R11 748 per jaar
R195 317 per jaar


4.  Daar dien gelet word op die feit dat die ANC in Kouga Raad, met hul geringe 15 – 14 meerderheid  Raadslede, die Westminster-tegniek van “winner takes all” toegepas het en al die hoër besoldigende poste vir hulself toegeëin het Maw. al die DA Raadslede in die Raad word as deeltydse Raadlede beskou en  verdien slegs die vierde vermelde salariskategorie naamlik die van ‘n gewone raadslid.

5.  ‘n Gewone Raadslid in KOUGA munisipaliteit se brutovergoeding is dus R16 276 per maand, voor enige aftrekkings soos persoonlikebelasting. So byvoorbeeld word ‘n bedrag gelykstaande aan ongeveer 25% maandeliks afgetrek vir persoonlike inkomstebelasting. Daar is uiteraard verskeie ander maandelikse aftrekkings.

6.  Die vergoeding wat verskyn het in “Our Times” sowel as op die “blog”: Die Koerier, het waarskynlik a.g.v ‘n misverstand die vervoertoelae verdubbel, daarom is ‘n bedrag van R20 101 foutiewelik gepubliseer.

7.   Daar is geen rede vir die DA om enigsins geheimsinig te wees oor vergoedingspakkette nie, dit is immers publieke kennis en wys ons graag daarop dat die vergoeding met 5% verhoog was tydens die raadsvergadering van 20 Desember 2011.



KOMMENTAAR

Dié storie begin nou baard kry. Hoe dit ookal sy, uiteindelik weet almal wat die ware feite omtrent die vergoeding van raadslede is.

Waarom die Kouga DA hulle ondersteuners nie vroeg-vroeg al in hulle vertroue geneem en besonderhede in verband met die nuwe salarisskale bekend gemaak het nie, weet nugter. Dan was daar mos minder "misverstande" en smalende reaksies soos raadslid Rheeder s’n. Klik hier om toegang tot die berig te verkry. Terloops, die agbare raadslid verwys in sy e-pos na tydelike raadslede” terwyl hy eintlik “deeltydse raadslede” bedoel.

'n Lekker stuk geveinsdheid het hom ook in die raadsaal afgespeel. Die DA val die Kouga-munisipaliteit gereeld oor wanbesteding en swak finansiële bestuur en bankrotskap en ander sondes aan, maar toe die geleentheid hom voordoen om sterk standpunt in te neem, sit hulle ewe gedwee by die trog aan! Ek het op goeie gesag verneem dat die DA nie die resolusie oor die nuwe salarisskale opponeer het nie.

Die Kouga DA se arrogansie het my asem weggeslaan. Vgl. hulle pogings om The Courier – Die Koerier die mond te snoer deur te eis dat berigte waarvan hulle nie hou nie, verwyder word. Klik hier om toegang tot die berig te verkry.

Ewe verwaand is hulle beskouing dat dit van minder belang is om goeie kommunikasie met hulle kiesers te bewerkstellig. Benewens 'n hoogdrawende persverklaring dan en wan, geen verslagvergaderings nie, en 'n enkele nuusbrief wat laat in September uitgereik is, het hulle (die kiesers) sedert die munisipale verkiesing in Mei 2011 bitter min terugvoering ontvang oor die doen en late van hulle verkose openbare verteenwoordigers. Twee wyke bedryf darem elk 'n blog wat deur 'n handjievol kiesers gelees word. Verder? Niks.

Ek het pas ná die verkiesing via my raadslid aangebied om DAtanet (kyk http://www.da-jbayregion.blogspot.com/) te heraktiveer en te omskep in 'n DA-inligtingsbron vir die hele Kouga. Hulle bly my tot vandag toe nog ‘n antwoord skuldig. Dis ironies dat die meeste rekenaargeletterde Kouga DA-raadslede op The Courier – Die Koerier ingeteken het - Elza van Lingen inkluis – al omskryf hy sy funksie as ‘n spreekbuis vir Kouga DA Wyk 3!

Vra enige Kouga DA-kieser hierna en jy sal hoor: "Hulle ken ons net as daar 'n verkiesing is." 

Kouga DA-kiesers is geregtig om dikwels ingelig te word wat hul openbare verteenwoordigers se standpunt oor munisipale vraagstukke is. Die DA weet beter as enigiemand anders wat op die munisipaliteit se lys van skades en skandes is en behoort hulle ondersteuners gereeld op die hoogte daarvan te hou. As dit nuuswaardig is, sal die plaaslike koerante mos berigte daaroor plaas, of hoe? Terloops, is een of meer DA-raadslede spesifiek getaak om openbare skakelwerk te hanteer? Indien nie, waarom op dees aarde nie?

Gewone DA-ondersteuners wil graag hê dat hulle verkose verteenwoordigers oor hierdie sake die hand in eie boesem steek en die haakplekke regstel – vóórdat die volgende verkiesing aanbreek. Dis nie goed genoeg om ander vir jou tekortkominge te verkwalik nie.
                                                                                                        - Barry Vosloo

No comments:

Post a Comment